Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Friday, June 3, 2011

INTUSSEN OP PEARSONARIUM...

1. 


From: Petrus Potgieter
Date: 2011/5/31
Subject: VERGEET NIE
To: pearsonarium@googlegroups.com


http://mierleeu.blogspot.com/2011/05/rsa-50.html

2.


From: Esther 
Date: 2011/6/1
Subject: RE: VERGEET NIE
To: pearsonarium@googlegroups.com


Dankie Petrus! 
Dit het my weer laat terugdink aan Republiekdag toe ons die vlaggies gewaai het en bly was oor iets wat ek nie so heeltemal op daardie ouderdom verstaan het nie.

3.

From: Petrus Potgieter
Date: 2011/6/1
Subject: Re: VERGEET NIE
To: pearsonarium@googlegroups.com

Dankie vir jou dankie, Esther.

Wat ek my veral van toentertyd herinner, is 'n gesinkroniseerde massa-oefening deur skoolkinders in die Boet Erasmusstadion. Ek dink hulle het dit destyds iets anders genoem, maar kan dit nie meer onthou nie.
Ek wil-wil net onthou dat elkeen 'n hoela-hoep(el) en 'n gekleurde lint of serp gehad het en op die maat van musiek allerlei elegante bewegings uitgevoer het.

Wat my egter onophoudelik en mateloos verstom en geïrriteer het, was dat die ander 55,554 kinders altoos van slag af was en net ék op maat van die musiek beweeg het...
Alles dui daarop dat dié haglike toestand in 'n halfeeu nie verbeter het nie en dit vandag nog steeds net ek is wat in pas is.

Met 'n bietjie liefde uit die óú vasteland

4.

From: Marianne 
Date: 2011/6/1
Subject: RE: VERGEET NIE
To: "pearsonarium@googlegroups.com" <pearsonarium@googlegroups.com>


Hi Petrus
‘n Goeie selfbeeld is ‘n deug

5.

From: Petrus Potgieter
Date: 2011/6/2
Subject: Re: VERGEET NIE
To: pearsonarium@googlegroups.com


My liewe deug, vrouwe Marianne

Met só 'n skerpsinnige kommentaar kan ek nie anders nie as om te dink dat 'n mens met sulke aangetroude klasgenote nie klasgenote nodig het nie!

Hier op die óú vasteland van lyfeienes en kasteelhere is dit vandag 'n vakansiedag, te wete Jezeken Klim-opalias Onze Lieven Heer Hemelvaart, wat van gist'raand af 'n laaaangnaweek tot gevolg het en mens dus die geleentheid gee om virtueel met deugsame vroue te verkeer. 'n Moeite-werd musikale verwysing na Jezeken Klim-af is híér te beluister - ek is ongelukkig onbewus van 'n vergelykbare Klim-opweergawe.

Die bloederige spatsels van die papawers in die weilande is langsamerhand besig om te verdwyn terwyl die kersies aan ons argeologies-oue kersieboom onkeerbaar van tussentoongeel oor tepelpienk tot klaprooskarmosyn verkleur.

Ja, hier noem die mense die papawer 'n klaprooswat soos volg deur die WAT uitgelê word:

"Minder gewone, meer Ndl. volksnaam vir die ('n) papawer (veral v/d geslag Papaver, fam. Papaveraceae) - so genoem vanweë die klapgeluid wat ontstaan as een v/d groot vliesagtige blomblare (soos v/d gewone klaproos) op die kring van duim en voorvinger gelê word oor die tregtervormige holte v/d halfgeslote hand en daar m/d oop ander hand daarop geslaan word; meer bep., benaming vir o.a. [die blom van] (a) veral Papaver rhoeas, die gewone klaproos, met bloedrooi blomme en 'n kaal, byna bolronde saaddoos met ag of meer stempelstrale - 'n eenjarige onkruid op graanlande; (b) P. dubium, met kleiner en bleker rooi blomme en 'n langwerpige saaddoos met 5 tot 9 stempelstrale; en (c) P. argemone, met rooi blomblare wat swart aan hul basis is, en 'n langwerpige, styfbehaarde saaddoos...Buite op stoep en bolwerk waar klaprose / in pienk somers in die son se are pols (B. Breytenbach: Ysterkoei, 1964, 41)..."

Te kus en te keur




 


No comments:

Post a Comment