Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Saturday, November 26, 2011

'HEIMWEE'





...ek is bly ek is nie nou in die Karoo nie, op 'n laat agtermiddag, onder 'n peperboom se koel arms met 'n stowwerige broek nie.
Want ek sal opstaan en begin loop, en nooit weer ophou loop nie.
Ek sal nooit weer iets eet met my mond nie, nee ek sal net met my oë eet, en altyd boorgatwater drink.

Ek sal verby verlate stasies drentel en nooit weer iets sê nie, ek sal die lief en leed probeer inneem, by die rooibaksteen huisies, wat al lank leegstaan. En die kinderdae onthou van stasiewerkerkinders wat onder die appelkoosboom gespeel het en groen appelkose geëet het. Ek sal my verkyk aan die son wat blink op die spore weerglans, die spore van treine wat vir altyd verbyry. Asook na 'n gifgroen stinksprinkaan wat half mank oor 'n ou bierblik klim. Ek sal sonlig drink soos water, ek sal my bed met slangbos maak. Ek sal van menswees af weggaan. Ek is bly ek is nie vandag laatmiddag in die Karoo gewees nie, ...ek sal nooit weer terug gekom het nie.

Anthon van der Hoven

No comments:

Post a Comment