Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Tuesday, February 21, 2012

MY LAND - MY MENSE - MY AFRIKAANS

Aan die verhuisingsmanne

Dra saggies, vriende,
want sierpotte en erdewerk,
keurborde en fyn glas
sluit 'n hele lewe
met sy drome
en verlangens in;


Dra saggies, mededraers,
want die drag
van veerbed,
tafels, lessenaar
druk teen die bors
se dun skelet;


Dra saggies, regters,
want die oordeel
oor my klein bedryf
lê vasgevang
in prente, boeke
en 'n eie ou gemakstoel;


Dra saggies, gode,
want die hart se porselein
is broos en tot veel seer
en kwesbaarheid geneig:
die kratte van 'n lewe
kan so maklik breek.


[Ernst van Heerden]

No comments:

Post a Comment