Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Sunday, July 28, 2013

IN DIE BELANG VAN OPENHEID

My liewe ou Eastern-Province-Herald-On-The-Go-Quiz-spankaptein

Ons medespanlid se opmerking “Baie geluk met jou verjaardag wat was –Jy verjaar saam met n prins!!!!” is eintlik die sneller vir hierdie skrywe, want die prinslike puisie is nié op die 23ste uitgedruk nie, maar op die 22ste en as sy destyds só ’n fout gemaak het, kon dit fataal afgeloop het vir ons , soos trouens ook ’n verwarring oor wie nou eintlik die Speelgoedsimfonie gekomponeer het, waarvan daar - volgens wat ek nóú eers uitvind – inderdaad minstens twee weergawes bestaan, te wete van Leopold Mozart (Let Wél: pá van…) én van Joseph Haydn – ’n onderskeid wat waarlik gans te veel is om van ’n kaalvoet Boerseun te verwag, of hoe?
…en dan word jy só te na gekom in die onderskrif by hierdie foto…


…wat my herinneringe natuurlik ligjare ver na antieke ander universums terugvoer en laat wonder wat van Johannes geword het en wie was nou weer jou broer se spanlede; dis asof ek my ou Boerbok herinner, maar verder wil dit nie…al onthou ek hoe ek saam met julle na die Choccieskool toe gery het in jou ma se swart Wolseley 16/60 en dat die saal telkens vol was met ’n geesdriftige skare!

Die ritte in jou ma se statige Wolseley (met die wynrooi leerbekleedsel) het my altyd laat dink aan die keer toe ek as tienjarige kaalvoetklong saam in die destydse Baaise burgemeester se Chrysler gery het, maar dit was eintlik net per ongeluk, want my oudste broer, Tjaart, was mos groot pêlle met sy seun, Pieter, en ek was die betrokke Saterdagmiddag (by die hoogste uitsondering) saam met Tjaart by die Rademeyers wat in Pickeringstraat 18 gewoon het toe ons nog in Pickeringstraat 35 gewoon het.
Raadslid Rademeyer, wat vir United Dairies gewerk het, moes na die dairy toe gaan en ek en Tjaart & Pieter mog saam. Ek dink dit was in die omgewing van die Noordeindemeer waar daar altyd sulke lawaaierige motorbootjies resies geja het of mense geski het.

Terwyl die burgemeester besig was, mog ons die melkerywerf verken en ek het gedink dat dit maar morsig was en gelukkig het ons ons melk van die destydse mededinger – wat ek dink Chelsea Dairies was – gekoop en hulle sou uiteraard baie meer higiënies wees! Die volgende oomblik toe ek my voet neersit, voel ek ek trap in iets en toe ek afkyk, sien ek dis ’n drillerige stuk dikmelk seker so groot as ’n sandwich loafbrood - daardie reghoekige brode wat ek dink nie deur Brito’s gebak is nie, maar deur hulle konkurrente, waarvan die naam my ook nog ontgaan - en die dikmelk peul so tussen my skurwe tone deur analoog aan 'n bol beesmis oppie plaas. Pieter het gereeld pitswere of bloedvinte gekry en wanneer mense dan gesê het dis “omdat sy bloed vuil is”, het ek altyd gedink dis as gevolg van sy pa se vuil melk…

Aangesien hulle binne die PE-Wes gemeente woonagtig was, sal jy onthou die burgemeestersdiens is jaarliks in die PE-Weskerk gehou, al het ons geweet dat hy nooit normaalweg kerk toe gekom het nie, maar dit was ’n moerse storie met vet verkeerskonstabels op blouswaailigtende motorfietse en blinker-as-bottelblink brandweerwaens met brandweermanne-in-erewag vir die edeldierbare burgemeester met sy indrukwekkende hoofdeksel op – die begin van ’n grootskaalse bedrogspul, wat my oorlede pa gewéét het, maar in ooreenstemming met sy opvatting: where ignorance is bliss,... verswyg het.

Só, wanneer jy skryf
 “17 maande om te gaan.
Tree af Des 2014.
Ek het baie opgehoopte verlof, so wil vroeer klaarmaak.

Ha ha ek gaan lag vir die arme apie wat in my plek aangestel word, hy/sy/dit gaan nie weet wat hom tref nie.” …
…en
Ek vind die “jonger” personeel, weier om oortyd te werk.
Hulle steur hulle nie aan deadlines nie.
Hulle het nie verantwoordelikheid soos ons generasie nie.

My seun, Lourens, maak accounting klerkskap klaar Januarie, en wil hier kom werk.
Hy skroom nie om laat te werk nie, her verlede vrydagaand 19:30 eers van die werk af gekom.
En my werkgewer, stel nie belang in hom nie.
Hy is mos “wit “, so hy moet nie eers aansoek doen nie.”…

…dan begryp ek jou volkome, aangesien ek op 1 Januarie 1986 as stadsekretaris vir die destydse Ibhayi Stadsraad begin werk het en gou agtergekom het wat die ware toedrag van sake is en dit mondeling aan ’n verteenwoordiger van die destydse departement van ou Chris (Hees) Heunis meegedeel het.

Nie lank daarna nie ontvang ek die volgende versoek van hulle:




…waarop ek met bekwame spoed reageer met ’n handgeskrewe verslag wat by die departement getik sou word. Die einste departement het die “geheime” verslag aan die stadsraad van Ibhayi gelek en ek is natuurlik summier ontslaan. Onderstaande afskrif van die verslag het ek eers by latere onderhandelinge bekom, vandaar die tik- en ander foute:










Dis vir my duidelik dat jy nou niks anders ondervind as wat ek destyds belewe het nie, behalwe, waarskynlik oneindig erger, want daar is nie meer ‘n “skoonmadepartement” nie – al was einste skoonmadepartement eintlik my ondergang…


Om terug te keer na die EP Herald On The Go Quiz, moet ek erken dat ek al iemand hoor fluister het dat die quizmaster se kinders in Pearson was…hulle het seker Creamline melk gedrink wat hulle bloed besoedel het!

Groete

Jou Spanmaat

No comments:

Post a Comment