Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Thursday, October 17, 2013

WYLE PA IS NIE ONTEVREDE NIE

Quo vadis?

Romam vado iterum crucifigi.*

Dan klim jy maar bang die trappies op

van  eeue oue kansels op

plekke soos Zastron, Bethulie, Reddersburg en in die Tweetoring

en jy slaan jou oë op,

jou neus vang die reuk van Vrystaat se son

in die rooi mat se stof op

en jy hoor dalk behalwe die klok se slaan ook balke wat kraak

soos in die Weskerk met rebelle in die dak op

en die Kanselbybel se leer ruik na toom en saals met bittereinders op

en baie leë banke vertel van burgers lank weg

met veggeneraals en presidente wat jaag in die veld met hoede op

onder die sterrehemel soos die ferweel van die kanselkleed met

God is Liefde op

en ruik na brasso en byewas en die

water in die kraffie met die doilie op

proe na brak en buskruit

en in jou ore vermeng die orreltone, die konsentrasiekamp geween op

met O Boereplaas, De la Rey, Prijs den Heer en Heft, Burgers,

‘t lied der vrijheid aan...het oog op

God gerig.

16 Oktober 2013

* Volgens oorlewering het Paulus uit Rome gevlug, toe verskyn Christus aan hom. Hy vra toe aan Hom: “Waar gaan U heen?”  Hy antwoord toe: “Na Rome om weer gekruisig te word.” Paulus het toe daar omgedraai.

[Christiaan  Potgieter]

No comments:

Post a Comment