Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Tuesday, December 10, 2013

AS ONS NIE MET MEKAAR KAN PRATIE, DAN SING ONS SAAM

Bergstraat 14, Hanover
(vir Ouma)

onder die klavierklip by die fontein aan Trappieskop se voet
waar die haan van verraad op sy pos op die kerktoring waak
oor die weë van dorp, merino en meent in droogtetyd en vloed
kom nou meestal net rooivalkies van Kazakstan terug vir nesmaak
in hoë denne by wawielspore gesement, gaan min nog verby in stoet
na langboompies of gedenksteen aan Kakie-vergryp en boeresaak

daar het ek gesluip in middagdonker deur karoohuis se gang
waar bangmaakrame met Bloedrivier en ingekleurde fotos
hoog aan dik kleimure se outydse prentelyste donker hang
van voorgeslagte in die Statebybel wat almal lankal dood is
en my takseer en my sagte kaal voete met ‘n hout oog vang

wanneer ek saggies probeer lig trap om die fyn draai
oor wiegende vloerplank, by die spens verby deur eetkamer
met tafeldoek en eetgerei wat silwer ruik in die ou laai
verby koningstoel en koekoekklok wat non-stop hamer
my agtervolg tot in die warme kombuis met sy getik-tak
waar die nagloed en geur van kookkos en gasstoof
onder fyn bloublommetjiesnet en vadoeke vasgehaak,
soos Ouma se psalmsange, nog saggies die Here loof

hoe maak ‘n mens tog ‘n dubbeldeur toe sonder om te klap?
veral as die warm plaveiklippe onder jou voete brand
en jy vinnig wil wegswenk sonder om in ‘n bedding te trap
verby die kiss-me-quick-over-the-garden-gate al om die rand
met varings by die klam tenk en stokrose met taai trane
eindelik óm die wingerd binne in die koel beloofde land
‘n Kaleb, tussen kristal trosse en lowerdak van perskeboomblare
bewonder die tekstuur van leivoorkors se effens klam en fyn sand

die oordadige soet vrugtegeur styg soos sonbesie op in my klere
maar skielik dan: die buurman se hoenderhaan se onverwagte kraai
laat my middeldag wipskrik en soos ‘n aandklok ruglangs bewe
was dit die eerste omen, van verraad in ons paradys, om die draai
of was daar al ander tekens uit die wakis soos skrif aan die muur
om te waarsku van langmesse, verder trek en ‘n donkerder uur?


     © Kopiereg  voorbehou

van berg tot bergaf

wanneer ek die luike van my vensters sluit
en my blik op die binnewêreld rig
verdwyn alle afstand tussen Trappieskop
en die hange van ou Tafelberg in laaste lig:
die tone van die klavierklip by sy fontein
word die note wat gehoor word as die son ophou skyn
en deur al die lewens van kinderkersverlof
verwonder ek my steeds oor motors onhoorbaar stil
op die grondpad na De Aar se stof
en net ’n hanetreetjie daarvandaan
ná die donker gang en altaartafel vir die avondmaal
deur die spens met pastel wat kaats van elk bokaal
kraak die stilte van die middagrus
en die voortjie in ’n koelglad badkamervloer
vertel die storie van ’n ander stal
terwyl die tortels buite, eentonig in die hitte koer
met die rooikopergeiser wat trots soos ’n stookketel
op geverfde voetstuk setel
ek onthou g’n strome van seën van bowe
al het Ouma die Heiland hoe getrou gelowe
maar aan die oorkant van die straat langs die sendingpastorie
het ’n aantal oue Denne soos fiskale oor die leivoor gewaak
en uit hul skurwe stam se bas kon kinders bootjies maak
vir vér verkenningstogte: ontdekkers wyd en syd
had hul oorsprong en hul wortels
in Taaibosspruit se ruimte en se tyd
wanneer Somersonnewende
tradisie- en gewoontetrou herdenk word-
klein seuntjies met skurwe voete vol verwagting
en spanning Kersvaders wederkoms belewe
met hande en onderlippies wat bewe
tot op ’n dag dat ongevraag
die kindsgeloof ontnugter word:
ouma was die streng ou man met baard en sak!
is God ook net ’n poets gebak?

No comments:

Post a Comment