Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Sunday, August 24, 2014

HUWELIKS/REIS/VERSLAG I

Terwyl inkleurboeke-vir-volwassenes die ín-ding is, het ek besluit om dié reis hier te e-(inkleur)boekstaaf, al is dit op hierdie stadium sonder foto's van die "amptelike fotograaf".

Ek & Ingrid het verlede Vrydag (15/08/2014) teen ongeveer 08h30 van Hillegem af vertrek om Frederick & Liesbeth 'n halfuur later by hulle woonstel bokant De Trollekelder op te laai en daarna vir Gustaaf. Van Gent af het ons Eindhoven toe gery waar ons met 'n Airbus 320A van die Hongaarsgeregistreerde  W!ZZ-lugredery op vlug W6 2526 rigting Riga vertrek het.

Gedagtig aan ons eerste kennismaking met die lughawe van Eindhoven, skaars drie weke tevore...
...kón ek dit nie nalaat om later - toe die lugbus kruishoogte bereik - Ingrid daaraan te herinner dat die passasiers op vlug MH 17 net so kommer- en sorgeloos was as die ander passasiers rondom ons en toe tref die noodlot...en intussen het vlug MH 370 al heeltemal in vergetelheid verval.

Ná 'n vlug wat deur lugtroebelheid begin het soos 'n rit in 'n Bedford op Oom Willie se pad 
(dis waar kaptein André Meier se Buffel vroeg in Februarie 1979 die dubbele antitenklandmyn afgetrap het - foto's ter illustrasie - , enkele klieks van ons Omahanene operasionele basis af), maar later seepglad verloop het, het ons na 'n goeie landing (in teenstelling met die rodeo's van Ryan Air in Riga aangekom, waar Martin & Maija ons op die lughawe kom haal het met 'n silwerkleurige Audi Q7 wat Martin se aanstaande swaer, Dmitrijs, vir ons gereël het.

Aangesien die lugredery 'n mens letterlik beperk tot 'n oornagsakkie/-tassie van 42x32x25 cm as "gratis" bagasie, kon ons tóg al die bagasie inkry asook al sewe van ons. Eers toe ons almal ín was en op pad, het ek gesien dat arme Frederick, wat saam met Liesbeth heelagter gesit het, se knieknoppe die heeltyd verby sy ore steek en later het ek en Ingrid met hulle plekke geruil. [word vervolg


No comments:

Post a Comment