Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Sunday, July 12, 2015

UITSPRAAK VAN ZARATHOESTRA

Van ’n duisend-en-een doele

Zarathoestra het baie lande en vele volkere gesien: só het hy die goed en kwaad van ‘n legio volkere ontdek.
Geen volk kan bestaan sonder om ’n evaluasie/waardasie/waardering te maak nie, maar om hom self te handhaaf, durf hy nie evalueer/waardeer soos sy buurman evalueer/waardeer nie.
Ek het agtergekom dat baie wat vir die een volk as goed beskou word, vir ’n ander volk ’n verleentheid en ’n skande is. Ek het baie gesien wat híér sleg is, maar dáár in purper geklee word.
Die een buurman het die ander nooit verstaan nie: hy het hom onophoudelik verbaas oor sy buurman se onnoselheid en boosheid.
’n Kliptafel waarop alles wat goed is, gegraveer is, hang oor elke volk – kyk, dis ’n tafel van sy oorwinnings, kyk, dis die stem van sy wilskrag.
Dit wat vir hom swaar is, is lofwaardig; dit wat onvermydelik en moeilik is, is goed en dit wat uit die grootste verdrukking bevry is, die seldsame, die moeilikste – dit word as heilig beskou.
Alles wat lei tot heerskappy, oorwinning en voortreflikheid en tot die vrees en afguns van sy buurman, dít beskou hy as die hoogste, die eerste, die maatstaf en sin van alles.
Voorwaar, my broer, indien jy eers ’n volk se behoeftes, bodem, lug en bure ken, dan sal jy weet wat die wet van sy oorwinnings is en waarom hy hierdie leer gebruik om na sy hoop op te klim.
“Jy moet altyd eerste wees en al die andere verbystrewe: jou jaloerse siel moet niemand liefhê nie, behalwe jou vriend” – dit het ’n Griek tot in sy siel ontroer en hom gevolglik sy weg van grootheid laat bewandel.
Eerlikheid en vaardigheid met pyl-en-boog – dit is meteen hoogwaardig én gewigtig vir die volk van wie ek my naam gekry het – ’n naam wat vir my tegelyk hoogwaardig en gewigtig is.
“Om jou vader en moeder te eer en hulle tot die diepte van jou siel ter wille te wees”: hierdie oorwinningswet hang oor ’n ander volk en hulle het ewigheid en mag daarmee verwerf.
“Getrou wees en om ter wille daarvan bereid te wees om bloed en eer op die spel te plaas selfs vir laakbare en gevaarlike sake: sodoende het ’n ander volk sigself leer ken en bemeester en deur só die oorhand oor hom self te kry, het die volk groot en gewigtige verwagtinge van hom self begin koester.
Voorwaar, mense het hulself alle goed en alle kwaad gegee.
Voorwaar, hulle het dit nie gevat nie en ook nie gekry nie en dit het ook nie op hulle neergedaal soos ’n stem uit die hemel nie.
Die mens het as eerste waarde aan dinge gaan heg om hom self te handhaaf, - hy het as eerste sin gegee aan dinge, ’n menslike sin! Daarom noem hy hom self “mens”, hy maak die evaluasie/waardasie.
Evaluasie/waardasie is skepping: hoor dit,o skeppendes!
Evaluasie/waardasie is op sigself die waarde en skat van alle gewaardeerde dinge.
Slegs evaluasie en waardasie bring waarde tot stand: sonder evaluasie en waardasie sou die neut se bestaan ’n leë dop wees. Neem kennis julle skeppendes!
Waardewysigings,- dit beteken ’n verandering van die skeppendes. Om skepper te wees, moet jy vernietig.
Volkere was die eerste skeppers. Enkelinge het eers later skeppers geword en is as sodanig nog die jongste skepping.
Vroeër het volkere ’n kliptafel van dit wat goed is bo hul hoofde gehang.
Die liefde wat wil heers en die liefde wat wil gehoorsaam het onderling sulke kliptafels geskep.
Die geluk van die kudde is ouer as die geluk van die Eie-Ek en solank as wat die kudde die skoon gewete verteenwoordig, solank verteenwoordig die skuldige gewete: die Eie-Ek.
Voorwaar, die skelm, liefdelose Eie-Ek wat net sy eie voordeel soek in die voordeligheid van getalle, dit is nie die oorsprong van die kudde nie, maar sy ondergang.
Dit was nog altyd liefdevolle en skeppende mense wat goed en kwaad geskep het. Die vuur van die liefde en die vuur van woede gloei namens alle deug.
Zarathoestra het baie lande en vele volkere gesien en Zarathoestra het op die aarde geen groter mag teëgekom as die werk van die liefdevolle mense nie: die werke genaamd “goed” en “kwaad”.
Voorwaar, die mag van prys en verwyt is ’n monster. Sê vir my, broers, wie gaan dit aan bande lê? Sê vir my, wie gaan die duisendkoppige dier kniehalter?
Tot sover was daar ’n duisend doeleindes, want daar was ’n duisend volkere. Dis nog net die kniehalter vir die duisendkoppige dier wat ontbreek: nog net één doel ontbreek: die mens is nog steeds doelloos.
Sê my tog, my broers: as die mensheid nog steeds doelloos is, ontbreek die mensheid dan nie sélf ook nog nie?

[Friedrich Nietzsche, 1883]

_______________________________________________

From: Petrus Potgieter <potgieter.petrus@gmail.com>
Date: 2015-07-07 11:33 GMT+02:00
Subject: Re: Rapport
To:
Cc: 

Beste Thys 

Ek dink jou skrywe van twee dae gelede is baie sinvol en dis jammer dat niemand anders nog daarop gereageer het nie, maar ek wil ook verwys na die artikel van die man op wie se poslys ons mekaar jare gelede virtueel ontmoet het en spesifiek waar hy skryf "...word ons stelselmatig uit die ekonomie, die akademie, sport, die kerk en die media – om van die politiek en die staatsdiens nie eens te praat nie – geweer..."

Ek dink toe ek by 'n vorige geleentheid na Herman Dooyeweerd se Wysbegeerte van die Wetsidee en sy wetskringe of modale wette verwys het, was jy nogal redelik krities, maar desondanks gaan ek wéér daarna verwys - nié omdat ek so 'n groot aanbidder daarvan is nie, maar omdat dit 'n gemaklike, bruikbare struktuur verskaf. Só identifiseer Dooyeweerd dus die volgende vyftien wetskringe:

Aritmetiese, ruimtelike, kinematiese, energetiese, biotiese, psigiese, analitiese, historiese, linguale, sosiale, ekonomiese, estetiese, juridiese, etiese en pistiese.

Dan Roodt verwys (lukraak) na, sê maar, vyf van dié wetskringe, terwyl Zarathoestra miskien net na die etiese en pistiese wetskringe verwys.

Die Afrikaner het egter daarin geslaag om sy eie definisie aan 'n ieder en 'n elk van dié modaliteite te gee - definisies wat telkens die naaste aan die waarheid en die werklikheid is en die wêreld wéét dit en kan dit nie vát nie, in meerdere opsigte...

Wat die godsdiens betref, het ons 'n unieke volksgodsdiens geskep, weliswaar geskoei op 'n Asiatiese voorbeeld en die mense moet net leer dat alle ewigheids- en kosmiese aspirasies van suiwer teoretiese belang is.

Wat Afrikaans betref, het ons 'n uitnemende volkstaal geskep, maar die praat daarvan hoef nie 'n voorwaarde te wees om 'n Afrikaner te wees nie - só byvoorbeeld is Petrus van Eeden 'n Afrikaner in hart & niere al praat hy Nederlands in Nederland.
Ek het onlangs in Amersfoort, Nederland, 'n jongman, Andries ten-Napel as kieser vir die VVK geregistreer - hy het nie net 'n klompie jare in SA gewoon nie, hy praat Afrikaans vlot, maar vir my was die deurslaggewende faktor dat hy hom vereenselwig met die Afrikaner en sy doel en strewe.

Daar moet 'n eenheid van doel wees.

Petrus Potgieter  

No comments:

Post a Comment