Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Thursday, October 1, 2015

VAN RIGA TOT RUACANA I



My liewe jong vriend,
                                                                                                    26 Oktober 1951
...
Maar 'n mens dink nie alleen ekonomies nie; en die ellende waarvan ek gepraat het, is nie alleen stoflik nie. By 'n volk vir wie 'n mens werklik liefhet, sien jy sy vooroordele, sy kleinlikhede, sy geestelike agterstand. (Sien jy niks hiervan by jou eie mense nie?) Sou 'n mens nie selfs 'n miljoenêr kon "liefhê" nie wanneer jy aan sy verskriklike menslike beperkthede dink nie?

          Maar ons gebruik die woorde liefde in hierdie verband in 'n baie vreemde sin — omdat ons geen beter woord het nie. Die liefde waarmee 'n mens ’n volk liefhet, is nie soos die tussen ’n man en ’n vrou nie; dis eerder soos die liefde waarmee 'n mens 'n kind liefhet. Dis nie in hoofsaak gerig op deugde of krag of skoonheid nie, maar op swakheid, verblindheid hulpeloosheid en ’n blote moontlikheid.
...

NP van Wyk Louw

Dié reis het eintlik sy oorsprong gehad by Dmitrijs wat destyds vir ons The Beast gereël het en Ingrid wat hom toe "'n bak Belgiese bier" as simboliese beloning belowe het - welwetende dat ons dit nie later per vliegtuig sou saamneem of laat aflewer nie, maar dit as verskoning sou gebruik om die 2000 km per motor van Hillegem af Riga toe te ry en terug.


Ons het Saterdagoggend, 1 Augustus 2015, om 05h30 met Ingrid se óú Kangootjie (315,000 km) en nuwe TomTom in die pad geval... bewus daarvan dat dit 'n skarniernaweek gedurende die vakansie is, maar die grootste verkeer sou in die teenoorgestelde rigting wees en... wie ry in elk geval vir 'n vakansie Pole toe... 'n land waaroor ons intussen die verskriklikste getuienisse aangehoor het - ons vooroordeel en skeptisisme oor die plek en sy mense kon moeilik groter gewees het...


Dit was nog dou-voor-dag toe ons sonder oponthoud of teëspoed by Parkeergarage Antwerpen verbysleep op pad na Eindhoven waarvandaan ons omtrent net mooi 'n jaar gelede vir 'n lieflike troue vertrek het, maar wat 'n mens ook onwillekeurig aan die gruwel van vlug MH 17 herinner.                         My vorige besoek aan die buitewyke van Eindhoven was jare tevore toe ek en twee van die seuns op pad was na Wunsiedel en ons in die middel van die nag by 'n gekraakte militêre basis om 'n kampvuur gewag het voor ons vertrek om ons bus in Duitsland te haal om die moord op Rudolf Hess in 1987 te herdenk...




Die rit deur Nederland het voorspoedig en sonder voorval verloop.                        Aangesien ons ons nougeset aan 'n spoed van tussen 90 en 100 km per uur gehou het en gevolglik die meeste van die tyd in die regterkantste baan van die snelweg gery het, het ons gou-gou agtergekom hoe hoflik die haastige Duitse motoriste is: die oomblik wat jy jou rigtingaanwyser aansit om byvoorbeeld 'n vragmotor in te haal en in jou truspieël kyk, sien jy hulle summier uitwyk na die vinnige baan om jou die geleentheid te gee.


Ons eerste oponthoud was egter in einste Duitsland met 'n konsertinaknoop ongeveer halfpad deur die land en daarna 'n volslae knoop-innie-derm tussen Berlyn en die Poolse grens - tot ons (latere) skade & skande het ons toe besef dat daar baie Pole in die res van Europa is wat dié tyd van die jaar teruggaan na hulle tuisland toe...


No comments:

Post a Comment